Vergifnissondag

 Matthéüs 6:14-21

Vandag is die laaste Sondag voor die begin van die Groot Vastyd, die tyd van genade waarin die Kerk ons aanspoor om met vas en berou na God terug te keer. En op hierdie vooraand van die Vastyd hoor ons Jesus se ietwat vreeswekkende woorde oor hoe belangrik vergifnis is. Hy sê vir ons dat as ons ander vergewe, God ons ook sal vergewe, maar as ons ander nie vergewe nie, sal ons ook nie vergewe word nie.pantocrator-1

Vas kom in baie gelowe voor en party van hulle vas selfs nog strenger as Christene. Die doel van die vas is vir Christene nie die opeenstapeling van ons eie asketiese pogings nie, maar veeleer die sagmaak van ons harde harte sodat ons verander kan word in mense wat God en ons naaste waarlik liefhet.

Die Kerk begin dus die vastyd deur ons aan te moedig om vergifnis van ons broers en susters te vra, en ons word dan weer gevra om diegene te vergewe wat ons aanstoot gegee het en ons seergemaak het. Dit is geen geringe taak nie, veral in gevalle waar ons diep seergemaak is, of waar die betrokke persoon nie erken wat hy of sy gedoen het en nie om vergifnis vra nie. Tog beskou Jesus Christus vergifnis as behorende tot die kern van die Evangelie.

Verder is dit nie genoeg om maar net te sê dat ons mense vergewe en dan voortgaan om ‘n wrok teen hulle te koester nie. Ons word eerder gevra om van alle herinneringe aan die kwaad afstand te doen sodat die vergifnis wat ons met ons lippe gee, ook in ons harte kan wortel skiet en ons verhoudings met diegene om ons kan omvorm. Dit is iets wat ons nie op ons eie kan doen nie. Ons het God se hulp nodig. En dit is eers wanneer ons begin insien dat ook ons sondaars is wat God se barmhartigheid nodig het, dat ons die bron van medelye in onsself sal kan vind wat ons in staat sal stel om ander van ganser harte te vergewe.

Laat ons almal met ywer ons liggaam deur onthouding verneder en die heilige baan van die volmaakte vas betree. Laat ons die Heer wat ons red, soek met gebede en trane. Laat ons aan die kwaad gladnie meer dink nie; maar laat ons roep: Teen U het ons gesondig, o Christus ons Koning. Verlos ons soos eens die Niniviete en laat ons deelhê aan u hemelse Koninkryk, o Barmhartige. 

Uit die Vespers vir Vergifnissondag

Uittreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof 2 Maart  2014

2 Kommentaar

Filed under Uncategorized

2 responses to “Vergifnissondag

  1. Vr Zacharias, Christus het opgegaan
    Vergeef en laat ons verder saam bid,
    in die liefde van die Here, av aleksandr

Lewer kommentaar op Av Aleksandr Avraham Kanselleer antwoord