Die Paasboodskap van ons Patriarg Theodoros

Prot. Nr. 40/2014

 

THEODOROS II

DEUR DIE GENADE VAN GOD POUS EN PATRIARG VAN ALEXANDRIË

EN DIE HELE AFRIKA;

AAN DIE VOLHEID VAN ONS APOSTOLIESE EN PATRIARGALE TROON:

GENADE EN BARMHARTIGHEID EN VREDE VAN ONS VERRESE HERE EN GOD EN HEILAND JESUS CHRISTUS

Patriarg

My liewe broers en susters,

 

Deur loutere goedheid het God die mens in die lewe geroep en hom na sy beeld gevorm. Die mens is verryk met die gawe van ‘n redelike siel sodat hy beheer oor die geskape wereld kan uitoefen en wetenskaplike kennis kan bekom. Die mens is begaaf met ‘n suiwere siel waarin die koninkryk van God weerspieël en die weg tot die kennis van God en verlossing afgestempel is.

Toe die mens, deur in sy vryheid ‘n slegte beluit te neem, hom van God af weggekeer en hom by die boosheid aangepas het, het die allergoeie God hom nie versaak nie. In plaas daarvan het “ons oortreding van die Woord die mensliewendheid van God aangespreek sodat die Here aan die mensdom kon verskyn” (Athanasius die Grote, “Oor die Vleeswording van die Woord, 1). Deur die vleeswording van sy Seun, het God die skoonheid van die redelike siel herstel en sy beeld in die mens vernuwe.

Deur sy Kruis en sy Opstanding het ons Heiland Jesus Christus die mens weer die ontvanger van Goddelikheid gemaak. Hy het die mensdom iets selfs groter as geskapenheid gegee, nl. aanneming. Die mensdom is bedeel met die vermoë om deur genade ‘n kind van God te word. Hy het egter sy vryheid om die goddelike gawe te aanvaar of te verwerp, volledig behou. Sedertdien het die uitoefening van die mens se vrye wil sy pad na vergoddeliking soms verlig en soms verdonker.

In ons tyd is terrorisme een van die afgryslikste maniere waarop die beeld van God in die mensdom besoedel word. Die sistematiese gebruik van geweld of om te dreig om dit te gebruik, bring, bo en buite alle grense van redelikheid en sinvolheid wat dit oorskry, skok mee, versprei paniek, en neem menselewens. Die kweek van ‘n gevoel van onveiligheid in die siele van mense maak die waarde van die lewe goedkoop en verhoed gemeenskap met ander as beeldraers van God. Bestaan word dan nie meer ervaar as samebestaan nie; oorlewing hou op om as ‘n samelewing verwerklik te word. Om te groei in die gelykenis van God, lyk soos ‘n utopie wat verbrysel word deur die druk van vrees.

En hoewel God, as skepper en herskepper van die menslike natuur, vryheid omskryf het as ‘n daad van liefde en verantwoordelikheid, gee die terroris ‘n wanvoorstelling van vryheid as liefdelose eiemagtigheid. Hy doen wat hy wil sonder om die las van verantwoordelikheid op hom te neem en self die prys vir die dade van sy vrye keuse te betaal. Inteendeel; hy doen wat hy wil en belas sy medemens met die gevolge van sy keuses.

Die redelike kudde van die Patriargaat van Alexandrië en die hele Afrika ervaar dikwels die redeloosheid van terrorisme. Die Kerk van Alexandrië veroordeel terrorisme as die uitsiglose uitdrukking van morele medepligtigheid van ideologie saam met geweld. Sy bied as onfeilbare rigtinggewer Hom wat ons nie ideologië gebied het nie, maar deur sy lewe en dood eerder vryheid as agting vir ander, en liefde as die hoogste offer, beliggaam het. Sy behou haar geloof onuitwisbaar in God se selfvernedering, wat die wêreld so liefgehad het dat Hy sy eniggebore Seun gegee het. (Jn. 2:16) Sy bevorder met mensliewendheid die uitwerping van die blinde instink van terroristiese geweld uit die mens se siel en die herstel van die mens se siel as woonplek vir God.

My liewe broers en suster, in my bediening van my medemens in Afrika oor die jare heen, het ek geleer dat as die mensdom geleer kan word om te haat, dit nog makliker geleer kan word om lief te hê. En dit omdat God in die begin, by die aanvang van die mensdom se geskiedkundige reis, liefde in ons siele gestort het. En moenie vergeet nie: die mens kan vir God nee sê, maar God sê nooit vir die mens nee nie, en Hy hou nooit op om vir ons te wag om in vryheid op sy roepstem te antwoord nie!

 

Christus het opgestaan!

 

THEODOROS

Pous en Patriarg van Alexandrië en die Hele Afrika

 

 

In die Groot Stad Alexandrië

Heilige Pasga 2014

 

 

 

 

 

 

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Filed under Uncategorized

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s