Ons Behoefte aan Genesing

 Johannes 5:1-15

Vandag, op die Sondag van die Verlamde, gedenk die Kerk die genesing van die verlamde man by die bad van Betésda. Hierdie verlamde man het agt-en-dertig jaar op genesing gewag. Toe Jesus hom vra of hy genees wil word en die man antwoord  dat hy niemand het om hom in die genesende waters te sit nie, het Jesus Christus hom beveel om op te staan, sy bed op te neem en te loop.Verlamde

Die Kerk gee ons hierdie vertelling van een van die grootste genesingswonders van die Here in die Paastyd ten einde Christus se oorwinning oor die sonde en die dood aan te toon. As Christene sien ons die genesing van die verlamde as ‘n simbool van die vernuwing van lewe van die hele mensdom deur die opstanding van Christus.

Vandag se Evangelielesing is een van die min plekke waar Jesus Christus ‘n verband tussen sonde en siekte toon wanneer Hy vir die man wat genees is, sê “moenie meer sondig nie”. Nie alle siekte word deur sonde veroorsaak nie, maar ons weet dat daar wel ‘n verband kan wees tussen geestelike siekte en liggaamlike siekte, en dit lyk asof dit in hierdie geval so was.

Maar, of ons nou liggaamlik siek is of nie, ons is almal geestelik siek en dit het ‘n uitwerking op ons op maniere waarvan ons nie eens bewus is nie. Sonde is nie soseer die verbreking van wette nie, maar eerder ‘n siekte wat dit vir ons onmoontlik maak om te doen wat ons in der waarheid wil doen. Dit is om ons van hierdie sonde te genees dat Jesus Christus ons werkliheid in sy dood aan die Kruis op Hom geneem het, en, deur sy Opstanding, vir ons die pad na genesing oopgemaak het. Dit is waarom ons tot Hom kan uitroep: “Genees my siel wat al vir so baie jare siek is soos wat U die Verlamde genees het.”

O Here, die bad het nie die Verlamde man genees nie, maar u woord het hom vernuwe, en sy jarelange siekte het het hom nie verhinder nie,  want die werking van u stem is as meer deurdringend bewys. En hy het die las wat so swaar was om te dra, weggewerp, en die gewig van sy bed gedra, as getuienis van die oorvloed van u medelye; eer aan U.

By die Lofpsalms uit die Mette van die Sondag van die Verlamde

Uittreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof 11 Mei  2014

2 Kommentaar

Filed under Afrikaans-Ortodoks, Liturgiese jaar, Ortodokse Kerk, Uncategorized

2 responses to “Ons Behoefte aan Genesing

  1. Dit is fantasties om in Afrikaans te lees wat ek hier in Griekeland in die kerk mis…baie dankie. geseende na-week.

  2. Wonderlik om vanuit Griekeland ‘n Afrikaanse opmerking en waardering vir ons webblad te kry!

Lewer kommentaar op Anastasia Athanaselli Kanselleer antwoord