Vandag, op die tweede Sondag na Pinkster, begin ons Evangelielesings hoor uit die Evangelie van Mattheus wat ons sal neem deur van die belangrike gebeurtenisse in die lewe en bediening van Jesus Christus.
In vandag se Evangelielesing sien ons hoe Hy, kort na die begin van sy openbare bediening, die eerste apostels roep om Hom te volg en in sy bediening te deel. Daar word nie veel gesê oor hierdie manne nie, behalwe dat hulle vissers was. Hulle was, met ander woorde, sommer gewone mense, en het beslis nie onder die gegoedes of die geleerdes getel nie. En tog, so word daar vir ons vertel, is dit hierdie gewone vissers wat mede-werkers van Christus en “vissers van mense” sal word.
Ons weet van agterna beskou dat hierdie nederige vissers deur Christus se leer heeltemal verander is en, deur die krag van sy dood en Opstanding en die koms van die Heilige Gees, groot sendelinge, en in die meeste gevalle, martelare vir die geloof geword het. Tog moes dit destyds alles behalwe vanselfsprekend gelyk het.
Die roeping om Christus te volg, is nie net gerig aan die apostels van die eerste eeuse Palestina nie, maar word gerig aan elkeen van ons vandag. Ons voel miskien nietig en ontoereikend, en tog toon die geskiedenis van die Kerk vir ons dat God gewone mense kan gebruik, as hulle hulle toelaat om op sy uitnodiging te antwoord. Ons word nie almal geroep om swerwende predikers te word nie, maar elkeen van ons word deur God geroep. Ons word moontlik nie geroep om ons visnette en ons gesinne te verlaat nie, maar daar is dalk ander goed wat ons bereid moet wees om te laat vaar ten einde ons blik meer intens op Jesus Christus te plaas.
Verag nie Christus se gebod van die liefde nie, want dit is daardeur dat jy ‘n kind van God kan word.
Die Heilige Maximus die Belyder
Uittreksel uit Evangelion. ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof, 23 Junie 2012