Die Besnydenis van die Here

Vandag, op die agste dag na die Geboorte, wat ook die eerste dag van die burgerlike Nuwe Jaar is, gedenk die Kerk die besnydenis van Jesus Christus. Die Heilige Lukas sê vir ons dat Hy nie net besny is nie, maar ook die naam Jesus ontvang het, wat Redder beteken. En die Kindjie het gegroei, “en die genade van God was op Hom.”pantocrator-1

Ons wonder miskien waarom Jesus besny moes word. Die Heilige Lukas sê vir ons dat Hy dit gedoen het ten einde te voldoen aan die Wet van Moses (2:39), en die Vaders leer ons dat Hy dit gedoen het ten einde Hom volledig met ons te vereenselwig ten einde ons te red. Want, soos die Heilige Paulus dit stel, ook ons word in Hom besny, (Kol. 2:11). Die besnydenis van Christus vervul die Wet en skaf dit terselfdertyd af, want deur Sy dood en opstanding stel Hy ‘n nuwe besnydenis in, naamlik die doop.

Besnydenis is deur Josua in die Ou Testament ingestel as voorafskaduing van wat sou kom. Net soos Josua deur die Vaders gesien is as die voorafskaduing van Jesus, is die besnydenis wat hy ingestel het terwyl die volk Israel in die woestyn rondgeswerf het, gesien as die voorafskaduing van ons doop. Net soos wat dit ten doel gehad het om die volk Israel af te sonder sodat hulle ‘n nuwe lewe kon lei, neem ons doop ons op in die dood en opstanding van Jesus Christus terwyl dit ons van ons sonde reining, en ons in staat stel om ‘n nuwe lewe in Hom te lei.

Hierdie nuwe besnydenis waarin ons in die doop opgeneem word, is egter nie ‘n liggaamlike ding nie, maar is dit wat die Heilige Paulus ‘n “besnydenis van die hart” noem (Rom 2:29), wat nie net ‘n eenmalige besigheid is nie. Die Heilige Bede die Eerbiedwaardige, verwys daarna as “hierdie daaglikse besnydenis van ons, dit wil sê, die voortdurende reiniging van die hart.” Ons is ‘n verstommende groot gawe gegee met die doop, maar dit is ‘n gawe wat elke dag in ons vernuwe moet word. Kom ons bid dat God ons, waar ons ‘n nuwe jaar begin, sal help om waarlik ons harte binne te gaan en Hom daar op ‘n immer nuwe manier te vind.

Abba Pimen het van Abba Prior gesê dat hy elke dag ‘n nuwe begin maak.

Uit die Gesegdes van die Woestynvaders.

 Uittreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof, 1 Januarie 2017

Advertisements

Lewer kommentaar

Filed under Afrikaans-Ortodoks, Die Bybel, Liturgiese jaar, Ortodokse Kerk

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s