Kersboodskap van die Patriarg van Alexandrië 2020

Vertaal deur vr. Johann Rossouw van Bloemfontein

Ref. No. 140/2020

THEODOROS II

DEUR DIE GENADE VAN GOD

POUS EN PATRIARG

VAN ALEXANDRIË EN DIE GANSE AFRIKA

TOT DIE VOLHEID VAN DIE APOSTOLIESE

EN PATRIARGALE TROON VAN ALEXANDRIË

GENADE EN VREDE

VAN ONS HERE EN GOD EN SALIGMAKER JESUS CHRISTUS

GEBORE IN BETHLEHEM.

Kom alle gelowiges, laat ons sien waar Christus gebore is…”

Heiligste broeders en wedergebore kinders in die Here,

Christus is gebore! 

          Met die gesang se oproep van die Geboortemette, word ons regstreeks bekendgestel aan die kernbetekenis van hierdie groot Christusfees, synde waar Christus gebore is!

         Baie mense mag vinnig wees om te antwoord dat hy gebore is in Bethlehem, Judea. Dog, is dit die regte antwoord op die vers van die gesang meer as 2000 jaar sedert daardie gebeurtenis?

         Christus is gebore! Hierdie jaar en op elke oomblik in die Kerk. Weer eens sal die liggies en vrolike klanke stroom oor die markte wat deur die pandemie die skrik op die lyf gejaag is. Die versierde strate sal die tuiste word van ons angs, wat opmerklik sal wees onder die wandelende skares. Heerlike gebak skyn nie in staat te wees nie om die bitterheid wat ons gevoel het, te verdryf. Die heerlike kos staan onaangeraak op die feestafel. Ongeag hoe luid musiek ’n sekulêre viering aankondig, is dit nie in staat om die krete van ons siele uit te doof nie.

 Dog, in die krip regeer ’n Vrede sonder grense, ’n Wysheid wat onsterflik opgedaag het, ’n Mag wat sigbaar weerloos dog opgestane is! Waar is dan hierdie krip vir die mens om hoop en vreugde van te put? Dit is nêrens anders as ons Ortodokse Kerk nie! Wil jy sien waar Christus gebore is? Christus was en word gebore in die Kerk! Ons Kerk – die ewige, die tydlose, die gemeenskap van die Vader en van God en van die Heilige Gees – is die krip waar die vleesgeworde Seun van God en die Seun van die Maagd, ons Here Jesus Christus, gebore is.

Met die Heilige Gees in hul harte het die Goddraende Apostels met ’n staf en ’n skouersak uitgegaan om oor die lengte en breedte van die wye heelal te verkondig dat die krip in Bethlehem die Kerk van Christus is – die plek waar die heiligste gebeure plaasvind. In die loop van die eeue, terwyl die Apostoliese inspanning om in elke era die lewende getuienis van God se Waarheid uit te dra, voortgegaan het, het baie mense deur staat te maak op hulle eie logika, selfregverdiging en wêreldse mag gepoog om ons Here van die Kerk te skei. Talle mense bely hulle liefde vir Christus, maar hulle glo nie in die Kerk nie. Hulle glo in God, maar die Kerk is oorbodig. Hulle hou van Kersfees, maar hulle is hartseer wanneer dit verby is.                                                                                                                                                                                                                                       

Sonder die Kerk is ons ewe min in staat om Christus lief te hê as om oor Hom te praat. Deur haar Heilige Ekumeniese Konsilies, die Plaaslike Konsilies, haar Tradisie, en haar gemenereg het die Kerk Christus in die bewustheid van haar volheid gevorm. Sonder die Kerk is Christus waardeloos vir die gelowiges. Dit is deur die Kerk wat ek glo. Dit is deur die Kerk wat ek aanbid. Dit is deur die Kerk wat ek die ware doel van my bestaan ken en verken. Dit is aan Christus se Kerk – die Een, Heilige, Katolieke en Apostoliese Kerk – wat die Heilige Vaders die Ark van die Nuwe Testament en die erflating van Genade oorgedra het. Gevolglik is dit slegs die Kerk wat red, en word sy nooit deur ons gered nie. Sy heilig, maar word nie geheilig nie. Sy onderrig en benodig geen onderrig van enigiets eindig nie.

Die lering van die Kerk, die ewige prediking van die Kerk, is die ware God, presies soos Hy vir ons en vir ons redding vlees geword het. Gevolglik is die Allerheiligste Liggaam van die Kerk nie ’n hipotetiese begrip of ’n fiktiewe verhaal nie, maar word sy bepaal deur alles wat heilig en onvervreembaar is soos bepaal deur haar ervaring en praktyk deur die eeue. Die oneindige Kerk as die Liggaam van Christus beskik dus oor die grense van die heilige regulasies van elke plaaslike Kerk, waarbinne die ewige, oneindige Christus noulettend bewaak word. Die regte kerkleer is ’n veilige hawe en ’n knusse wiegie in ’n kerkwêreld wat weens vreemde motiewe vinnig beweeg in die rigting van die ontheiliging van ons geskiedenis. 

Ons hier in Alexandrië, in the Groot Stad van Athanasius en Kyrillos en soveel groot besingers van die God-Menskind, in die wieg van die teologie en die filosofie, in die wieg van die letterkunde, van die kultuur en die kunste, weet uit ervaring hoe om na die voorbeeld van die Kerk ons hart en ons bestaan te omvorm tot ’n knusse wiegie om Hom te huisves wat die lig van die Waarheid in Egipte geskyn het, die Groot Vreemdeling van die Geskiedenis, ons Here Jesus Christus.

Ons is bewus van en word ’n toevlug vir die pyn, die trane en die behoeftes van die arm, dog geseënde vrugte van ons vermoeide Sending. Die ganse Afrika word elke oomblik ’n wieg van hoop en verwagting. Vanaf hier, die antieke Setel van die Heilige Apostel en Evangelis Markus, word ons die bewaarders en beskermers van ons swak en vervolgde broers en susters, omdat dit is wat God beveel het. 

My kinders, Christus-agtige kinders van die Kerk, wanneer hulle julle vra om hulle te wys waar Christus gebore is, moet julle antwoord, Hy is in die Kerk gebore, Hy is in ons harte gebore, ons is in Hom weergebore, deur Hom lewe ons, ons is volledig Syne, ons het Hom nie slegs gedurende hierdie feesgety nie, maar op elke oomblik, in elke omstandighede, of ons nou leef of sterf!

’n Vreugdevolle en Heilige Geboortefees! ’n Onbederflike, ewige Kersfees van hoop met optimisme, eensgesindheid, liefde en deelgenootskap vir almal!

Laat ons dan volg waar die ware, standvastige Ster van die Kerk ons lei!

Baie geseënde jare in gesondheid vir almal!

THEODOROS II

Pous en Patriarg van Alexandrië en die Ganse Afrika

In die Groot Stad van Alexandrië

Geboortefees, 2020  

Lewer kommentaar

Filed under Uncategorized

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s