Resepte vir die Vastyd

Met die Groot Vastyd wat voor hande lê, wanneer daar gewoonlik geen vleis, vis, eiers of diereprodukte geëet word nie, het een van ons gemeentelede, Emilia Smuts die moeite gedoen om ‘n paar vastydresepte bymekaar te maak vir diegene wat dit moeilik vind om te weet wat om te kook in hierdie tyd. Ons is haar baie dankbaar daarvoor. Sy sal enige kommentaar verwelkom.

‘n Kruis bokant ‘n resep deur daarop dat dit geskik is vir ‘n streng vasdag

‘n Vis bokant ‘n resep dui daarop dat dit geskik is vir ‘n vis, wyn en olyfoliedag

‘n Tros druiwe dui daarop dat dit geskik is vir ‘n wyn en olyfoliedag

 

Kruisie 2

’n Eenvoudige wortelsop

Porsies:  4

Werkstyd: 15 minute

Aanwysing:  Doodmaklik

Hierdie sop is doodmaklik as jy ‘n handpureerder of versapper het.  Dit is ‘n resep van Heidi Swanson van die webwerf www.101cookbooks.com .  Sit aanvanklik maar eerder te min rooikerrie as te veel in – jy kan altyd meer insit, maar nie altyd minder nie!

Bestanddele:

  • 2 e klapperolie
  • 1 ui, grof gekap
  • 1 – 2 t Thaise rooikerriepasta, of na smaak
  • 500g vars wortels, geskrop en in stukke gekap (skil indien verkies)
  • 1 400 g blik klappermelk (nie laevet nie)
  • 1 ½ t sout
  • ± 2 k water
  • 1 suurlemoen of lemmetjie se sap
  • gekapte vars koljander of kruisement, gekapte geroosterde amandels of ander neute om oor te strooi as garnering (opsioneel)

Verhit die klapperolie in ’n mediumgrootte kastrol en sit die uie by. Roer goed deur en braai die uie vir ’n paar minute tot deurskynend.  Roer die kerriepasta by en gooi dan die wortels in die pot.  Braai die spulletjie vir ’n minuut of twee om die geur te ontwikkel.  Dan sit jy die klappermelk, sout by, asook genoeg water by om die wortels te bedek.  Kook stadig totdat die wortels sag is, ongeveer 10 – 15 minute.  Puree die sop met jou versapper of handpureerder – laasgenoemde doen jy sommer in die kastrol – totdat dit heeltemal syglad is.  As die sop te dik is, kan dit met ’n bietjie kookwater verdun word.  Roer ’n lekker skoot vars suurlemoen- of lemmetjiesap deur.  Proe dan vir geur en sit nog sout, rooikerrie of suurlemoensap by.  Net voor jy die sop bedien kan jy die gekapte kruie of neute oor strooi om ’n bietjie tekstuur en kleur te gee.

 

Kruisie 2

Murgpampoentjies

Porsies:          2 – 4

Werkstyd:     20 minute

Aanwysing:  Doodmaklik

’n Maklike manier om murgpampoentjies (zucchini of baby marrow) gaar te maak en in die yskas te hou vir later se eet. Heerlik in slaai of saam met vars brood en hummus vir ’n vinnige middagete op ’n warm dag. Of ’n lekker bykos vir ’n gewone dag.

Bestanddele:

  • 5 e olie (normaalweg word olyfolie gebruik, maar enige ander goeie olie sal deug)
  • 500 g klein murgpampoentjies,  in die lengte halveer.  Sny groter pampoentjies in vingers.
  • Sout
  • ½ knoffelhuise, fyngedruk
  • 1 e rooiwynasyn
  • Peper
  • Basieliekruid- of kruisement- of pietersielieblare, fyngekap

Metode:

 Verhit 2 eetlepels olie in ’n swaar pan oor hoë hitte en braai die murgpampoentjies met die gesnyde kant na onder tot bruin – so ongeveer 3 minute.  Werk stuk-stuk as jou pan nie groot is nie.  Draai die pampoentjies om en braai vir nog 2 minute tot sag.  Draai die hitte laer as hulle te bruin word.  Sit die klaargebraaide pampoentjies in ’n vlak skotteltjie of slaaibak en strooi sout oor.

Klits die knoffel, asyn en oorblywende 3 e olie saam ’n bakkie en geur met sout en peper.  Giet oor die murgpampoentjies en strooi die gekapte kruie oor.  Laat die gereg staan by kamertemperatuur vir ’n uur voor ete of bewaar in die yskas, waar dit vir ’n goeie paar dae sal hou.

Wenk:  ’n bietjie gerasperde suurlemoenskil bo-oor die gereg, kan net ’n aanwins wees.

 

Image result for bunch of grapes icon

Mujaddara

Porsies:          4 – 6

Werkstyd:     30 min

Aanwysing:  Maklik

Mujaddara is ‘n Levantynse rysgereg, met net so baie variasies as spellings. Hierdie weergawe is gegeur met koljander, komyn, borrie, piment (allspice) en kaneel. Anders staan die speserye net en oud word in die kas. Dit is ewe lekker warm of koud. Bedien dit met opgekookte groente en tahini of met piekels.

Bestanddele:

  • ½ – 1 k sonneblomolie, of ander olie
  • 3 groterige uie, gehalveer en dun gesny
  • 250 g (1 1/3 k) groen of bruin lensies, uitgesoek en afgespoel
  • 200 g (1 k) basmati- of ander geurige rys, soos jasmyn
  • 1 e gemaalde koljander
  • 2 t gemaalde komyn
  • ½ t borrie
  • 1 ½ t gemaalde piment
  • 1 ½ t gemaalde kaneel
  • 1 t suiker
  • sout en swart peper
  • 350 ml water

Metode:

Verhit die olie in ‘n middelslag swaarboompan of vlak kastrol (met ‘n deksel) tot warm en braai die helfte van die ui, tot ‘n mooi goudbruin kleur en effens bros, so 5 – 7 minute. Roer af en toe sodat dit mooi eweredig verbruin. Hou die pan skuins (sodat die olie dreineer) en skep uit op kombuispapier. Strooi sout oor. Herhaal met die ander helfte. (As die uie te beknop in die pan is, braai dit dan in 3 sarsies.)

Sit die lensies intussen in ‘n kastrolletjie, bedek ruim met kraanwater en kook vir 10 minute of totdat dit halfpad gaar is. Hulle moet nog ‘n bietjie byt in hê. Dreineer in ‘n sif.

Gooi die oortollige olie uit die pan, behalwe vir so 2 of 3 eetlepels. Plaas die pan terug op die vuur en voeg nou die rys, die speserye, suiker, sout en ruim peper by en roer lekker deur sodat die rys met olie bedek word. Voeg dan die lensies en die water by. Bring tot kookpunt, sit die deksel op, verlaag die hitte en prut stadig vir 15 minute.

Haal af van die stoof, en haal die deksel van die pan af. Gooi ‘n skoon teedoek oor en sit die deksel weer op. Laat rus so vir 10 minute.

Skep die rys en lensies in ‘n opdienskottel en roer amper al die uie versigtig deur. Kroon die gereg met die res van die ui.

Image result for bunch of grapes icon

Briam (Griekse gemengde geroosterde groente)

Porsies:          4 – 6

Werkstyd:     30 min

Aanwysing:  Maklik, maar bak lank

Briam(i) is ’n heerlike, heilsame gereg. Deur die groente te bak, word die geur gekonsentreer en die eenvoudige bestanddele omskep in ‘n feesmaal. Bedien dit met lekker varsgebakte brood om die sousies mee op te eet.

Bestanddele:

  • 1 kg rooiryp tamaties (6 – 8 medium), afgeskil en dun skywe gesny
  • ½ kg aartappels (4 – 5 medium), geskil (opsioneel) en gesny in 1 cm skywe
  • ½ kg eiervrug (2 groterig), geskil in repe en gesny in 1 cm skywe
  • ½ kg murgpampoentjies, in skywe of repe gesny
  • 1 – 2 groen soetrissies, in repe gesny
  • ¾ k goeie olyfolie
  • 1 rooi ui, gehalveer en in dun skywe gesny
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • sout en gemaalde peper
  • 3 e gekapte vars kruie, soos orego of marjolein en tiemie of 2 t gemengde kruie
  • 2 e gekapte pietersielie

Metode:

Berei eers al die groente voor. Indien jy nie van eiervrug hou nie, laat dit bloot uit en skil nog ‘n paar aartappels by. Gebruik ‘n groot oondpan (myne is 24 cm x 34 cm), sodat die gereg nie te diep in die pan lê nie. Geur elke laag groente telkens met sout, peper en kruie.

Pak die helfte van die tamaties in ‘n laag onder in die pan en geur. Pak die res van die groente in lae bo-op en eindig met die ui en knoffel. Pak nou die oorblywende tamaties op, geur weer en sprinkel die pietersielie oor. Drup die olyfolie bo-oor die gereg.

Bedek die pan met aluminiumfoelie en bak by 200 ͦC vir 1 ½ tot 2 uur. Dit is nie nodig om die oond vooraf te verhit nie. Verwyder die foelie halfpad deur die baktyd sodat die gereg ‘n bietjie kleur kan kry. Indien die gereg op dié stadium droog lyk, kan ‘n klein bietjie kokende water langs die kant ingegooi word. Briam smaak net so lekker warm as by kamertemperatuur.

 

Kruisie 2

Rooilensiekerrie

Porsies:          3 – 4

Werkstyd:     15 minute

Aanwysing:  Doodmaklik

Rooilensiekerrie (ook genoem dhal) is ’n vinnig om te maak, omdat rooilensies nie geweek hoef te word soos ander droë peulgroente nie. Soos met alle kerriegeregte egter, verbeter die smaak as dit ’n goeie ruskans tussen bereiding en ete kry. Die gereg smaak vorentoe op ryspilaf of gewone gekookte rys met ‘n paar sambals en poppadums daarby. Oorskiet lensiekerrie kan maklik gerek word en maak ‘n lieflike basis vir sop.

Bestanddele:

  • 1 ui, gekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 1 groen brandrissie, gekap (of na jou smaak)
  • 1 e klapperolie of gewone olie
  • 2 t fyn komyn
  • 2 t fyn koljander
  • 1 t borrie
  • 250 g rooi lensies, afgespoel
  • 2 k kokende groente-aftreksel
  • 2 tamaties, geskil en gekap (of ’n halwe blikkie gekapte tamaties)
  • ½ k klappermelk (vries die res in ysbakkies vir later se gebruik)
  • gekapte koljanderblare

Metode:

Soteer die ui, knoffel en rissie in die olie tot sag. Voeg die speserye by en braai vir nog ‘n paar minute. Voeg die lensies en aftreksel by en laat prut vir 10 minute. Voeg die tamaties by en prut nog 5 tot 10 minute. Geur met sout en peper en roer die klappermelk by. Strooi die gekapte koljander net voor bediening oor.

 

Kruisie 2

Bereiding van droë bone

Porsies:          4 – 8

Werkstyd:     10 minute

Aanwysing:  Doodmaklik

Droë bone is van die mees voedingstofryke kos wat ‘n mens kry. Dit is hoog in proteïen en ook ryk aan vesel en ‘n verskeidenheid vitamiene en minerale. Dit het ‘n lae glisemiese indeks en is dus uiters geskik vir diabete en pre-diabete.

‘n Moontlike probleem is dat bone kan ly tot winderigheid. Dit word veroorsaak deur alfa-galaktosied, ‘n onoplosbare vesel. Dié vesel het ‘n prebiotiese funksie – dit beweeg deur die spysverteringskanaal tot in die kolon waar gunstige bakterieë dit fermenteer en stimuleer om te vermeerder. Hierdie fermentasieproses is uiters voordelig vir kolongesondheid en kan die risiko vir kolonkanker verminder.   Die goeie nuus is dat hoe meer dikwels droë bone in die dieet ingesluit word, hoe minder word die probleem van winderigheid omdat daar ‘n gesonde kolonie van gunstige bakterieë in die spysverteringstelsel gevestig word.

Bestanddele:

  • 500 g droë bone
  • Kookwater
  • 1 lourierblaar
  • paar peperkorrels
  • 1 e sout

Metode:

Soek die bone uit en spoel af. Sit die skoon bone in ‘n kastrol en bedek met kookwater. Laat week totdat die water afgekoel het. Kook dan verder tot sag in die weekwater waarby die lourierblaar, peperkorrels en sout gevoeg is. Dit kan enigiets neem van 45 minute tot ‘n uur, afhangende van watter bone jy gebruik en hoe oud die bone is. Klaargekookte bone vries goed: gooi die afgekoelde bone in ‘n houer(s), bedek met die water waarin dit gekook is, en vries.

Nota: Die tradisionele metode is om droë bone oornag te week in koue water, te dreineer en dan te kook. Gesoute booneters is egter van mening dat die lang vooraf weekproses die kooktyd net matig verminder en dat bone eintlik lekkerder smaak wanneer die droë bone gekook word sonder die weekproses. Boonop word ‘n klomp voedingstowwe uitgeloog en dan weggegooi saam met die weekwater. ‘n Prutpot is ideaal as jy dié metode op die proef wil stel.

 

Kruisie 2

Gebakte boontjies in tamatiesous

Porsies:          4 – 6

Werkstyd:     30 – 45 min

Aanwysing:  Maklik, maar vereis lang kook- en baktyd

Hierdie is ‘n resep van Martha Rose Shulman. Hoewel dit baie tyd in beslag neem, kan die gereg maklik in stadiums berei word. Die eindproduk is heerlike murgsagte bone in ‘n dik, soet sous. Bedien dit net so en kook sop van die oorskiet. Dit vries ook goed. Vir variasie kan 4 wortels, in ringe gesny en 2 gekapte selderystokke by die bone gesit word as dit sagkook. Laastens: sit ‘n paar aartappels, patats of beet in die oond om saam met die bone te bak.

Bestanddele:

  • 500 g suikerbone (red speckled beans), uitgesoek, afgespoel en geweek volgens die bostaande metode.
  • 1 heel skerp rissie, of rooipeper na smaak
  • 2 middelslag uie, gekap
  • ¼ k goeie kwaliteit olie
  • 3 groot knoffelhuisies, fyngemaak
  • 2 rooi soetrissies, gekap
  • 2 t paprika (gebruik gerookte paprika as jy het)
  • 400 g blik gekapte tamaties
  • 2 e tamatiepasta
  • 2 e kruisement, gekap plus ekstra vir garnering

Metode:

Gooi die geweekte bone saam met die weekwater in ‘n swaar, oondvaste kastrol en voeg genoeg water by sodat die bone 5 cm onder die water lê. Voeg die rissie en ‘n eetlepel sout by en bring tot kookpunt. Draai die hitte af en laat prut vir 45 minute tot 1 uur of totdat die bone sag, maar nog heel is.

Berei intussen die groente. Braai die uie, knoffel en soetrissie in die olie in ‘n pan tot sag en geurig. Geur met sout. Voeg die paprika, gekapte tamaties en tamatiepasta by en laat die mengsel ‘n bietjie inkook vir 5 – 10 minute.

Voeg nou die tamatiemengsel by die bone, geur met peper en kruisement en roer goed deur. Proe of daar nog sout nodig is.

Stel die oond op 150 ͦC, sit die kastrol in en bak met die deksel op vir 1 ½ uur totdat die bone baie sag en die sous dik is. Roer af en toe deur en maak seker dat die bone nie droog raak nie. Voeg kookwater by indien nodig.

Strooi ekstra gekapte kruisement oor voor ete. Bedien warm of koud.

 

Kruisie 2

Groen lensies met groente

Porsies:          4 – 6

Werkstyd:     30 min

Aanwysing:  Maklik

Hierdie is ‘n eenvoudige pot lensiekos, met geen pretensies nie.  Ek maak dit met groen lensies – die groot plat lensies, maar die kleiner, bruin lensies sal sekerlik net so goed werk. Bedien net so of oor bruinrys.

Bestanddele:

  • 2 e olie
  • 1 ui, gekap
  • 2 knoffelhuisies, gekap
  • 2 – 3 cm stukkie gemmerwortel, geskil en fyngekap
  • 1 e matige kerriepoeier
  • 2 selderystokke, opgesny
  • 2 wortels, geskil en in ringe gesny
  • 250 g (1 1/3k ) groen lensies, uitgesoek en afgespoel
  • 4 k water
  • 1 e sout
  • 1 medium patat, geskil en in blokkies gesny
  • ½ kop (2- 3 k) blomkool, grof opgekap
  • 1 blik (410g) gekapte tamaties of 3 vars tamaties, opgekap
  • 2 t gemende kruie
  • 4 k gekapte spinasie- of boerkoolblare (kale)

Metode:

Verhit die olie in ‘n medium swaarboomkastrol en braai die ui, gemmerwortel en knoffel oor matige hitte totdat die ui sag is. Voeg die kerriepoeier by en braai nog ‘n minuut of twee. Voeg nou die seldery en wortels by en roer goed deur. Voeg dan die lensies, water en sout by. Bring tot kookpunt, verlaag die hitte en kook vir 15 minute of totdat die lensies amper sag is.

Voeg die groente en kruie by en kook vir nog 10 minute, of totdat die patat sag is. Voeg laastens die groenigheid by en kook totdat dit ook sag is; nog so 5 – 10 minute. Proe of daar genoeg sout in is.

 

Kruisie 2

Tamatierissiesop

Porsies:           4 – 6

Werkstyd:      15 min

Aanwysing:    Doodmaklik

Hierdie heerlike sopresep, effens aangepas, verskyn op die agterkant van ‘n sakkie sopmengsel, wat gewoonlik bestaan uit gort, lensies en spliterte.  As skerp geure nie vir jou is nie, laat net die rooirissie uit. Varieer dit verder deur gerasperde wortel en gekapte seldery by die groente te voeg.  ‘n Mens hoef nie die sop te puree nie.  Dit is lekker saam met warm knoffelbrood.

Bestanddele:

  • 1 e olie
  • 2 uie, gekap
  • 1 knoffelhuisie, fyngekap
  • 1 groot, rooi soetrissie, gekap
  • 1 klein rooirissie, ontpit en gekap (opsioneel)
  • 2 (410 g elk) blikkies gekapte tamatie
  • 1 l goedgegeurde groente-aftreksel
  • 2 t paprika
  • 200 g (ongeveer 1 ¼ k) sopmengsel
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • gekapte vars pietersielie en/of tiemie

Metode:

Verhit die olie in ‘n sopkastrol en soteer die ui, knoffel, soetrissie en rooirissie (en ander groente) tot sag en glansend.

Voeg die tamatie, aftreksel, paprika en sopmengsel by en laat kook.  Verlaag die hitte en prut vir 45 minute tot 1 uur totdat die sopmengselbestanddele sag is.

Verwyder van die hitte en laat effens afkoel.  Voeg nog aftreksel by indien die sop te dik is. Maak die sop fyn met ‘n handpureerder, proe vir geur, strooi die groen kruie oor en bedien.

Image result for fish icon

Vars snoek

Porsies:          4

Werkstyd:     30 minute

Aanwysing: Doodmaklik

Bestanddele:

  • 4 porsies vars snoek
  • ½ k (125 ml) witwyn
  • ½ k (125 ml) water
  • 1 e olie
  • Gemaalde peper
  • Gekapte pietersielie

 Metode:

Vryf die snoek met sout in as dit nie reeds gesout is nie.  Pak die mootjies in ‘n enkellaag in ‘n pan wat ‘n deksel het.  Giet die wyn en water aan die kant in en drup die olie bo-oor.  Maal ‘n bietjie swart peper oor die vis.

Sit die deksel op die pan en posjeer tot die snoek gaar is – ongeveer 10 minute.  Haal uit en hou warm.  Kook die vloeistof vinnig in tot geurig en effens dikker en drup oor die snoek.  Sprinkel die gekapte pietersielie oor.  Bedien met gebakte of gekookte patats.

 

Image result for fish icon

Visbirijani

Porsies:          4

Werkstyd:     30 – 40 minute

Aanwysing: Maklik

Normaalweg word die gereg bedien met 4 – 6 hardgekookte eiers in kwarte gesny vir garnering, maar laat dit gerus uit op ‘n vasdag.  Bedien hierby saam ‘n slaaitjie van komkommer, piesang en lemoen, besprinkel met suurlemoensap en ‘n bietjie geroosterde klapper.

Bestanddele:

  • 200 g gaar gerookte vis (soos engelvis of snoek)
  • 4 k (1000 ml) gekookte rys
  • 2 uie, middeldeur gesny en dan dunnerig opgesny
  • 3 e (45 ml) olie
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 1 t (5 ml) afgerasperde suurlemoenskil
  • 2 t (10 ml) elk kerriepoeier en garam masala
  • 2 lente-uie fyngekap
  • ¼ k (60 ml) gekapte pietersielie
  • 1 suurlemoen in wiggies gesny

Metode:

Vlok die vis in kleiner stukke en verwyder die grate.  Braai die uie in die olie oor medium hitte tot dit begin verbruin.  Voeg nou die knoffel, suurlemoenskil en speserye by en braai vir nog ’n minuut of twee om die geur te ontwikkel.  Meng die rys en vis versigtig hierby in met ‘n vurk en verhit tot deurwarm. Drup ’n bietjie water of visaftreksel oor die gereg indien dit te droog lyk.  Geur met sout en peper.  Strooi die lente-ui en pietersielie oor en bedien met die suurlemoenwiggies.

Advertisements

One response to “Resepte vir die Vastyd

  1. Dit lyk alles baie lekker, Emilia!

    Vr. Zacharias