Evangelion

Macrina Walker, wat vir die Evangelion verantwoordelik is, het haar enkel gebreek en kan vir ‘n tydlank nie haar pligte nakom wat die Evangelion betref nie. Die Evangelion sal weer verskyn wanneer sy herstel het. Totdat dit gebeur, sal daar dan geen plasing van die weeklikse stukkies oor die Evangelielesing van die dag wees nie.

Ons wens Macrina ‘n spoedige herstel toe!

Lewer kommentaar

Filed under Uncategorized

Neem jou bed op en loop!

Die Kerk gedenk vandag die genesing van die verlamde by die bad van Betésda. Hierdie verlamde het agt-en-dertig jaar gewag om genees te word. Toe Jesus hom sien, het Hy hom gevra of hy genees wou word en toe die man antwoord dat hy niemand het om hom in die genesende water in te help nie, het Jesus hom beveel om sy bed op te neem en te loop.
Die Kerk gee hierdie beskrywing van een van die groot genesingswonders van die Here in die Paastyd om Christus se oorwinning oor die sonde en die dood toe te lig. Die Kerk beskou die genesing van die verlamde as simbool van die hernuwing van lewe van die ganse mensdom deur die opstanding van Christus.

Vandag se Evangelielesing is een van die weinige plekke waar Jesus Christus sonde en siekte met mekaar in verband bring, wanneer hy vir die man wat genees is, sê: “Moenie meer sondig nie”. Nie alle siekte word deur sonde veroorsaak nie, maar ons weeet dat daar tussen geestelike siekte en liggaamlike siekte ‘n verband bestaan, soos skynbaar in hierdie geval.
Ons is trouens almal geestelik siek, en dit het op verskeie maniere ‘n uitwerking op ons, dikwels sonder dat ons eers daarvan bewus is. Dit was om ons te genees van hierdie sonde dat Jesus Christus ons werklikheid op Hom geneem het in sy dood aan die Kruis, en, deur sy opstanding, vir ons die weg na genesing geopen het. Dit is waarom ons tot Hom kan uitroep: “Genees my siel, wat al jarelank siek is, soos U die verlamde genees het.”

Laat my siel wat deur baie sonde en onbesonne dade geheel en al verlam is, o Heer, deur u goddelike teenwoordigheid weer opstaan, soos wat U eens die verlamde laat opstaan het, sodat ek gered tot U mag roep: Barmhartige Christus, eer aan u krag! 

Kontakion vir die Sondag van die Verlamde

Uittreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof 7 Mei 2017

Lewer kommentaar

Filed under Afrikaans-Ortodoks, Die Bybel, Liturgiese jaar, Ortodokse Kerk

Hy is nie hier nie, Hy het opgestaan!

Vandag, op die Sondag van die Heilige Mirredraagsters, hoor ons die Heilige Markus se vertelling van hoe die heilige vroue na die graf van Christus gegaan het om sy liggaam te salf, en toe ‘n engel teëkom wat die nuus aan hulle bring dat Hy opgestaan het.Holy Myrrhbearers

Ons hoor nou al, en vier nou al, die afgelope twee weke die nuus van Christus se Opstanding, en ons weet dat die Opstanding die absolute kern van ons geloof is. Tog moes dit vir hierdie vroue, wat reeds deur die Kruisiging getraumatiseer is, ‘n taamlike skok gewees het om te verneem dat Christus se liggaam nie meer in die graf is nie. ‘n Mens kan hulle nie kwalik neem dat hulle bang was nie en dit is nie onverwags dat dit ‘n tydjie geneem het voor hulle werklik kon begryp wat gebeur het nie. Dit was egter hierdie vroue wat die eerstes was om die goeie nuus te verkondig dat Christus opgestaan het.

Ons is gewoond daaraan om die Opstanding van Christus met Pasga te vier, tog kan hierdie Evangelielesing ons help nadink oor die nuutheid van die Opstanding. In die Opstanding van Jesus Christus sien ons die krag van God op dramatiese wyse ons wêreld binnedring. Dit kan nogal onrusbarend wees, want dit keer ons normale verwagtinge heeltemal om. Soos die heilige vroue by die graf, weet ons miskien ook nie wat om te verwag wanneer ons God in ons lewens inlaat nie.

Die engel sê vir die vroue om nie te vrees nie, want Christus het opgestaan. Hy het hulle nie verlaat nie, maar het voor hulle uitgegaan na Galiléa, en hulle kry die opdrag om om vir die apostels te vertel van sy Opstanding. Op dieselfde wyse gaan Jesus Christus ons vooruit. Hy breek deur ons geslote deure ten einde ons te roep om Hom in sy verrese Lewe te volg. Dit kan ontstellend wees want dit lei ons die onbekende in. Tog weet ons dat Hy voor ons uitgaan en ons altyd sal lei en rig.

Laat ons vroeg in die môre opstaan en vir die Meester ‘n loflied in plaas van mirre bring, en ons sal Christus die Son van Geregtigheid sien wat lewe vir almal laat opkom.

Vyfde Ode van die Paaskanon van Johannes van Damaskus

Uittreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof 30 April  2017

Lewer kommentaar

Filed under Afrikaans-Ortodoks, Die Bybel, Liturgiese jaar, Ortodokse Kerk

My Here en my God!

Vandag, die eerste Sondag van Pasga, staan bekend as Thomassondag, want ons hoor nou hoe Jesus Christus aan die apostel Thomas verskyn  en ons geloof versterk het,

Die Heilige Johannes vertel vir ons dat Jesus Christus na die die Opstanding aan die apostels verskyn het en hulle sending bevestig het deur die Heilige Gees oor hulle te blaas. Die Heilige Thomas was egter nie by hierdie geleentheid saam met hulle nie, en hy het volgehou dat hy nie sou glo nie tensy Christus ook aan hom verskyn. En agt dae na die Opstanding het Jesus Christus na hom gekom. Oorweldig deur geloof het Thomas uitgeroep: “My Here en my God.”Thomas

Daar word soms na die Heilige Thomas verwys as die ongelowige Thomas, tog toon vandag se Evangelielesing vir ons sy diepe geloof wat hom sou lei om die Evangelie in veraf lande te verkondig. Hy was egter nie tevrede om dinge eenvoudig op grond van hoor-sê te aanvaar, of om aan goed toe te gee bloot om ander tevrede te stel nie. Hy het gesien dat geloof eg moes wees, en hy moes dus deur ‘n proses gaan wat uitgeloop het op sy ontmoeting met die Verrese Heer.

Soos die Heilige Thomas, ervaar ons ook miskien tye waar dit vir ons moeilik is om te glo, of is dit miskien moeilik om iets te aanvaar bloot omdat ander mense so sê. Vandag se Evangelielesing toon egter vir ons dat ons tot geloof kom nie bloot deur redelike denke, of deur bloot die getuienis van ander te aanvaar nie. Ons moet self die Verrese Christus in ons lewens teenkom, want dit is in die ontmoeting met Hom dat ook ons deur die werklikheid van sy teenwoordigheid oorweldig sal word. En ons ontmoet hom in ‘n voortdurende lewe van gebed – deur te luister na die Evangelie en deur deel te neem aan die sakramentele lewe van die Kerk, deur ons vir Hom oop te stel sodat Hy ‘n al hoe groter werklikheid vir ons word.

Dit was nie per ongeluk dat daardie spesifieke dissipel nie teenwoordig was nie. Die goddelike genade het bestem dat ‘n twyfelende dissipel, deur die vleeslike wonde in sy Meester te betas, die wonde van ongeloof in ons kan heel. Die ongeloof van Thomas is nuttiger vir ons geloof as die geloof van die ander dissipels. Want die aanraking waardeur hy gebring is om te glo, bevestig ons denke in die geloof, bo alle twyfel.

Die Heilige Gregorios Dialogos

Uittreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof 23 April 2017

Lewer kommentaar

Filed under Afrikaans-Ortodoks, Die Bybel, Liturgiese jaar, Ortodokse Kerk

PAASBOODSKAP VAN DIE PATRIARG

Prot. Nr. 20/2017

THEODOROS II

DEUR DIE GENADE VAN GOD POUS EN PATRIARG VAN ALEXANDRIË

EN DIE HELE AFRIKA;

AAN DIE VOLHEID VAN ONS APOSTOLIESE EN PATRIARGALE TROON:

GENADE EN BARMHARTIGHEID VAN ONS VERRESE HERE EN GOD EN HEILAND JESUS CHRISTUS

“En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleindig van die wêreld.” (Mt. 28:20)

 

My liewe broers en susters,

Met hierdie woorde, met hierdie belofte vol hoop, het die Seun van God sy verlossingswerk op aarde voltooi. Hy wat die hemele verlaat het en na die aarde gekom het om ons verlossing te bied. Hy wat vir ons arm geword het. Hy wat die Kruis bestyg het en vir ons gely het. Hy wat vir ons begrawe is. Hy wat vir ons weer opgestaan het, en die dood wat Hy verduur het, het vir ons die aankondiger van onsterflikheid geword.

Hierdie uiteinde was egter nie net verbaal nie, ook was dit nie bloot histories nie. Hierdie uiteinde was, in teendeel, dinamies en tydloos. Die Kerk het die werktuig vir hierdie tydlose dinamiek van Sy opstanding geword. Nie as ‘n gevestigde godsdiens nie, maar as die Liggam van Christus, ‘n oop gemeenskap van sondige mense wat verlossing wil verkry; mense wat die oproep van Christus aanvaar: “Kom na my toe almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. (Mt. 11:28)

             Die Kerk het uiteindelik die lewende bewys geword van hoe lief die Verrese Here ons het. Want ‘n mens kan twyfel hê oor enigiets, maar nie oor die liefde van God nie. Maar wat is dit wat ons van die Huis van die Vader weghou? Wat is dit wat ons nie toelaat om terug te keer na die Vader wat ons liefhet en op ons wag? Is dit miskien ons uitermate vertroue op ons eie krag? Of is dit miskien die indruk dat ons foute so groot is dat dit die liefde van God oorskry?

Wat die antwoord ookal is, openbaar die afstand wat ons van God skei, ‘n gebrek aan geloof. Dit is as gevolg van die feit dat hoop en liefde ons in gemeenskap met God bring, eers wanneer dit gegrond is op ware geloof. Hoop en liefde verlig die pad van terugkeer na God, eers wanneer ons gereed is om, soos Petrus, te bely: U is die Christus, die Seun van die lewende God” (Mt. 16:16) Eers wanneer geloof nie bloot ‘n bron van ‘n gespogery is nie, maar wanneer dit die onuitputlike bron van die goeie toepassing daarvan is.

Deesdae het ons, ongelukkig, miskien die hoogtes van kennis bereik, maar het ons in die geloof ongeletterd geraak. Ons het miskeien tegnologies uitgeblink, maar dit het daarop uitgloop dat ons  teologies onkundig geword het. Ons het die geopenbaarde woord van God verwerp en het in nuwe evangelies begin glo, op die gebied van die wetenskap, die filosofie of die politiek. Ons het God ontken en begin glo dat ons Hom nie nodig het ten einde ons bestaan te omskryf nie. Ons het die ware geloof vergeet en het ons oorgegee aan die kettery van ons tyd: die verheerliking van ons ego, van mag en rykdom.

En nou dat ons helaas vind dat ons wêreld oorheers word deur die redeloosheid van die sterkste onder ons medemens, soek ons ‘n manier om die weg na verlossing te vind. En nou dat ons in God se liefde ongeletterd geraak het, probeer ons die krag vind om te sê: “Ek sal opstaan en na my vader gaan” (Lk. 15:18). Ons persoonlike opstanding is egter onmoontlik sonder die hervuwing van ons geloof. Ons evangeliese ongeletterdheid kan net genees word deur die woord van God deur persoonlike ervaring te leer ken.

My liewe broers en suster.

21 eeue na die Opstanding van die God-Mens en die verspreiding van die Gevangelie aan die volke, het die mensdom weereens hopeloos verwyderd van God se wil geraak. Die enigste veilige kompas vir ‘n terugkeer na ons vaderlike tuiste, is om weer tot geloof ge-evangeliseer te word. Na geloof, nie net as ‘n blote saak van die denke nie, maar wesenlik as ‘n ervaring van die hart. Na geloof, nie as die belydenis van ‘n idee nie, maar as die belydenis van die persoon van Christus, wat die Weg, die Waarheid en die Lewe is, na geloof as sending, as ‘n plig om Christus se Evangelie te bring na die uiteindes van die aarde.

Dit is wat ons in Afrika doen, want, soos Johannes Chrysostomos dit gestel het, is daar niks meer ongevoelig as ‘n Christen wat nie omgee vir die verlossing van ander nie ((pg 60, 162). Hierdie sending is moontlik reusagtig en die arbeiders miskien min, maar ons harte klop warm by die belofte van hoop van die Here dat “die poorte van die doderyk dit (die Kerk) nie (sal) oorweldig nie. (Mt. 16:18) Hierdie belofte van hoop van die Here is wat ons sendingwerk omvorm tot ‘n sending van liefde wat die dood te bowe gaan. Net soos wat ons Heer die dood met sy Opstanding oorwin het.

Christus het opgestaan!

 

(Geteken deur) +Theodoros ll

Pous en Patriarg van Alexandrë en die Hele Afrika

 

 

Lewer kommentaar

Filed under Uncategorized

Vir Sy Begrafnis Gesalf

 Johannes 12:1-18

Terwyl ons vandag Palmsondag vier, gaan ons die allerheiligste tyd van Kerk se jaar in. En vandag hoor ons die verhaal uit die Evangelie van die Heilige Johannes van hoe Jesus deur die Heilige Maria van Betanië gesalf is.

Gister, op Lasarussaterdag, het ons gedenk hoe Jesus Christus Lasarus uit die dood opgewek het, en so vir ons ‘n voorsmaak van sy eie Opstanding gegee het. Vandag se Evangelielesing plaas ons weer in Betanië, waarheen Christus gegaan het om Maria en Martha en Lasarus te besoek. En daar word vir ons vertel dat Maria ‘n fles baie kosbare nardussalf gebring het, dit op Jesus se voete uitgegiet en met haar hare afgevee het, tot ergernis van Judas Iskariot, wat dit as ‘n vermorsing van geld beskou het.Anointment of Jesus feet

Die Kerk gee ons hierdie lesing waar ons Heilige Week ingaan, want, soos Christus Self sê, salf Maria Hom vir sy begrafnis. Haar handeling is ‘n profetiese gebaar wat ons toon Wie Hy eintlik is en voorspel die dood wat Hy op die punt staan om te ondergaan.

Maar dit is ook ‘n handeling wat die tere toewyding openbaar wat Christus in sy volgelinge uitlok. Deur sy voete met kosbare salf te salf, het Maria vir Christus die mees kosbare ding wat sy gehad het, gegee. Sy het eintlik haar hele lewe voor Hom uitgestort. Waar ons Heilige Week ingaan, roep hierdie Evangelielesing ons op om ons hele lewe na Christus te bring, en sy lyding en dood toe te laat om ons in die diepte van ons harte te raak, sodat ook ons met ons hele lewe op Hom sal kan reageer.

Wanneer jy hierdie Liggaam, dit wil sê dit Kerk, liefhet, bring water vir Sy voete en soen Sy voete, deur nie net hulle wat in die sonde verstrik geraak het te vergewe nie, maar gee hulle deur jou genade ‘n gevoel van tuishoort en stel hulle gerus. Giet salf oor Sy voete sodat die hele huis waarin Christus by die tafel aansit deur die geur van jou salf gevul mag word. Met ander woorde, vereer die geringstes.

Die Heilige Ambrosius van Milaan.

Uitreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof 9 April 2016

Lewer kommentaar

Filed under Uncategorized

‘n Dienaar en slaaf vir almal

 Markus 10:32-45

Vandag, op die Sondag van die Heilige Maria die Egiptenaar, hoor ons Jesus profeteer oor sy Lyding terwyl Hy saam met sy Apostels op pad Jerusalem toe is. Die Heilige Markus beskryf hoe Jacobus en Johannes Hom vra om ereplekke in sy Koninkryk. In antwoord hierop stel Jesus dit vir hulle duidelik dat terwyl die heidene dit normaal ag vir leiers om baas te speel oor ander, dit nie is hoe dinge in sy Koninkryk werk nie. Inteendeel: “Elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees, en elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet almal se dienskeng wees.”humility_icon_789_300

In hierdie insident sien ons hoe die Evangelie wat Jesus predik die waardes van ons wêreld heeltemal omkeer. Ons volg Christus nie om magtig of ryk te word nie, maar om soos Hy te word. En Hy het “nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.” In Jesus Christus sien ons iemand wat Homself ledig vir die verlossing van die wêreld.

Dit is vir ons maklik om krities te wees oor die taamlik klaarblyklike ambisie van die Apostels, wat nog nie geleer het wat dit beteken om Christus te volg nie. Tog het ons almal neigings tot eie-belang waarvan ons nie bewus mag wees nie, en daar is baie subtiele maniere waarop  ons godsdiens kan gebruik om ons eie ego’s te stut terwyl ons verwag dat ons vroomheid op die een of ander manier op erkenning sal uitloop. Op ons vastydweg bid ons dat God ons verlangens sal suiwer, ons ware nederigheid sal leer en ons al hoe meer sal vorm volgens die Beeld van sy Seun, wat ons leer wat ware grootheid beteken.

Voor Hy Homself verneder het, het net die engele Hom geken. Na Hy Homself verneder het, het die hele menslike geslag Hom geken. ‘n Mens sien hoe sy Selfvernedering nie meegebring het dat Hy minder het nie, maar dat dit tallose voordele, tallose dade van deugsaamheid, meegebring het, en sy heerlikheid met groter helderheid laat straal het. God wil niks hê nie en het niks nodig nie. Tog het Hy, toe Hy Homself verneder het, soveel goedheid voortgebring, sy huishouding uitgebrei, en sy Koninkryk vergroot. Waarom is jy dan bang dat jy minder sal word as jy jouself verneder? 

Die Heilige Johannes Chrysostomos

Uittreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof 2 April 2017

Lewer kommentaar

Filed under Uncategorized

Dienstye by die Kerk van die Heilige Maria die Egiptenaar te Robertson 2017

Die dienste vir Heilige Week by ons kerk in Robertson sal vanjaar, 2017, die volgende wees:

Saterdag 8 April:                  Liturgie vir Lasarussaterdag: 9 vm

Vespers vir Palmsondag 5 nm

 

Sondag 9 April:                    Liturgie vir Palmsondag: 9 vm

Bruidegomsmette: 6:30 nm

 

Maandag 10 April:               Liturgie van die Voorafgewyde Gawes: 9 vm

Bruidegomsmette: 6:30 nm

 

Dinsdag 11 April:                 Bruidegomsmetter: 6:30 nm

 

Woensdag 12 April:            Mette en Siekesalwing: 6:30 nm

 

Donderdag 13 April:           Vesperale Liturgie vir die Instelling van die Heilige Nagmaal: 9 vm.

Twaalfevangeliesdiens: 6:30- 9:30 nm

 

Vrydag 14 April:                   Vespers vir Goeie Vrydag: 10:30 vm

Mette met Klaagliedere:   6:30 nm

 

Saterdag 15 April:               Vesperale Liturgie (die eerste Pasgadiens): 9 vm

Die nagdiens, gevolg deur die Paasmette en die Paasliturgie: 11 nm

 

Sondag 16 April:                  Die Agapevespers: 12 nm (net voor middagete.)

Lewer kommentaar

Filed under Uncategorized

Ontferm U oor ons en help ons!

Markus 9:17-31

Vandag, op die Sondag van die Heilige Johannes Klimakus, hoor ons die verhaal van die genesing van die seun wat ‘n stomme gees gehad het. Sy vader, desperaat dat hy homself gaan vernietig, het hom na Jesus se dissipels gebring, maar hulle kon die gees nie uit hom dryf nie. Jesus Christus verklaar egter dat enigiets moontlik is vir diegene wat glo, waarop sy vader uitroep: “Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp.”epeleptic

Hierdie voorval herinner ons daaraan dat die redding wat Jesus Christus ons bied, te make het met ons genesing. En hierdie genesing kan meer beteken as wat ons soms verwag. Ons is miskien nie besete met geeste wat ons in die vuur probeer gooi nie, maar ons is almal deur ‘n gees van stomheid geraak. Ons menslike kommunikasie is deur die die sondeval aangetas, ons het die vermoë verloor om te praat soos wat ons moet, en menslike spraak het al te dikwels ontaard in woede en aggressie. En tog, as ons eerlik is met onsself, weet ons dat dit nie is hoe dit behoort te wees nie en dat ons daarna verlang om genees te word.

Ons het reeds gesien dat ons geloof moet hê – selfs geloof te midde van twyfel – ten einde genees te word. Maar Christus sê ook vir ons dat hierdie soort gees “deur niks anders (kan) uitgaan as gebed.” Dit is in en deur gebed dat ons die krag van God in ons lewens ontdek. Dit is deur die volgehoue beoefening van gebed dat ons geleidelik leer om te glo. Dit is deur gebed dat ons genees kan word van ons verwronge kommunikasiepatrone, want daar is ‘n regstreekse verband tussen ons verhouding met God en ons verhoudings met diegene om ons. Ware gebed lei ons na ‘n plek waar God ons kan genees. Dit stel ons in staat om die verskillende mededingende geluide wat die wêreld en ons eie wanaangepaste toestand ons kant toe gooi, eenkant te laat sodat ons deur die genesende krag van God aangeraak kan word.

Dit is nie nodig om lang gesprekke te voer nie; dit is genoeg om jou hande uit te steek en te sê: “Here, soos U wil, en soos U weet; wees barmhartig” En as die stryd in felheid toeneem, sê dan: “Here, help!” God weet baie goed wat ons nodig het en hy betoon ons sy barmhartigheid.”

Die Heilige Makarius die Grote

Uittreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof 26 Maart 2017

2 Kommentaar

Filed under Uncategorized

Neem jou kruis op

Vandag, op die derde Sondag van die Groot Vastyd, die Sondag van die Kruisverering, hoor ons die Evangelie van Markus en die prikkelende woorde van Jesus Christus  oor wat dit beteken om sy volgelinge te wees. Hy vra ons om onself te verloën, ons kruis op te neem en Hom te volg, en waarsku ons dat as ons ons eie lewens wil red ons dit vir seker sal verloor.take up your cross

Dit is ontstellende woorde en herinner ons aan die groot prys wat ons moet betaal daarvoor om ‘n Christen te wees. Al te dikwels kan ons wat dit beteken om jou kruis op te neem, geringskat en vergeet dat die Kruis vir Christus iets was wat Hom sy lewe gekos het. En Hy herinner ons in hierdie Evangelielesing daaraan dat as ons sy volgelinge wil wees, dit ons ons lewens sal kos.

Ons kan miskien wonder daaroor. Is ons lewe nie ‘n gawe van God nie, en wil Hy dan nie hê dat ons voluit moet lewe nie? Waarom sou Hy van ons verwag om ons lewe te verloën?Wil God regtig hê dat ons misrabel moet wees? Jesus gee ons ‘n leidraad tot hierdie paradoks deur vir ons te sê dat “elkeen wat sy lewe om My ontwil en om die evangelie ontwil verloor, sal dit red.”

Jesus Christus het gekom om ons ‘n oorvloed van die lewe te bring en hulle in die grafte tot die lewe te herstel, soos ons met Pasga gaan sing. Maar ten einde hierdie gawe van lewe te ontvang, moet ons eers al ons neigings tot die sonde afsterf, ons eie selfsugtigheid en die baie maniere waarop dit ons lewens deurdring het, versaak, en bereid wees ons Christus waarlik te volg. Wat dit beteken, sal vir elkeen van ons verskillend wees, maar ons weet dat daar geen ware lewe is wat nie beteken om vir jouself te sterf nie. En ons weet ook dat deur dit te doen, ons die enigste lewe ontvang wat werklik die moeite werd is om te hê.

In die Paradys van ouds het die vyand my deur ‘n boom kaal gestroop, want want toe ek daaraan proe, het dit die dood gebring. Maar nou is die Boom van die Kruis, wat die kleding van die lewe vir die mensdom dra, op die aarde geplant, en die hele wereld met alle vreugde vervul. O volke, wanneer julle sien dat dit vereer word, laat ons eenstemmig en met geloof tot God uitroep: “Sy huis is vol heerlikheid.”

Uit die Mette vir die Sondag van die Kruisverering

Uittreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof 19  Maart  2017

Lewer kommentaar

Filed under Uncategorized